’n Lewende Kerk: Meer as Net ’n Sondagdiens

As jy wil weet hoe kerk moet wees.

7/9/20252 min read

Dis maklik om moed te verloor met die kerk. Een van die grootste redes hoekom mense daarvandaan weggaan is dat hulle voel dit is vol skynheiliges. Ander voel dis koud, of dat hulle niks ontvang nie. Maar wat as die Bybel vir ons ’n heel ander prentjie van kerkwees wys?

Jesus self het die kerk ingestel - dis nie ’n menslike uitvindsel nie. Die kerk is daar om sy liggaam op aarde te wees. Dit moet Hom verheerlik, Hom gehoorsaam, en dit is daar vir mekaar. Mens wees is moeilik. Die mens en die wêreld is gebroke. Jesus wat ten volle God én ten volle mens is, het geweet wat ons deurgaan en dat ons hulp nodig sou hê – in die vorm van sy kerk.

Die Nuwe Testament bevat ongeveer 59 unieke “mekaar”-opdragte, wat handel oor Liefde & Eenheid, Versorging & Diens, Geestelike Groei, Nederigheid & Vergifnis. Die kerk is daar – vir mekaar. Die skrywer van die boek van Hebreërs som dit mooi op: “Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle die dag sien naderkom!” (Heb 10:24-25)

Maar wat baie mense vergeet, is dat die kerk nie vol perfekte mense is nie. Nadat jy jou vertroue in Jesus as enigste redder geplaas het, hou jy nie onmiddelik op om ’n sondaar te wees nie. Jy is wel ’n vergewe sondaar, maar ongelukkig steeds ’n sondaar. En al wil jy nie verkeerd doen nie, gaan jy partykeer. En partykeer kry ons die “mekaar” aksies nie lekker reg nie. Maar baie keer doen ons. Nee, die kerk is nie perfek nie. Maar dit streef wel om God se liefde tot mekaar uit te leef, en te deel met ander.

’n Lewende kerk is nie perfek nie — maar dis aktief en saamgroeiend in liefde. Dis ’n plek van leer, deel wees, toerusting en saam tot volwassenheid in Christus groei. En dit gebeur deur daar te wees vir mekaar, mekaar te help, en lief te hê.

As jy dus teleurgesteld is in die kerk, vra dalk nie net, “Wat kry ek?” nie, maar “Waar kan ek bou, dien, groei, en deel wees, saam met ander?” Jesus het nie net vir jou gesterf nie, maar Hy plaas jou waar jy deel van ’n liggaam kan wees, vir jou en vir ander se voordeel. Maak seker dat jy nie uitmis op daardie seën in jou lewe nie!